Ek het pas klaargemaak met een van die mees inspirerende boeke wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Dit is geskryf deur die ateïs Michale Ruse, professor in Filosofie by die Universiteit van Florida in die VSA. Wat my geïnspireer het was nie die tema van die boek (Die titel was Can a Darwinian be a Christian?), die konklusie van die bespreking of selfs die stryfstyl nie.  Alhoewel genoemde elemente inderdaad interessant en vervullend was, was die verfrissende bestanddeel van die boek die begrip, insig en waardering wat hy uitspreek teenoor die Christelike geloof.

Dit was so ‘n kontras met  van vandag se vervelige gesprekke waar politeke partye alewig poog om hulle opponente verdag te maak by die publiek; waar nie-gelowige skeptici die geloof van mense blatant en onnadenkend afkraak as naïef, dwaas en oudmodies; waar kerkmense enige iemand demoniseer wat nie soos hulle dink nie. Min mense stel blykbaar regtig belang daarin om waarlik na mekaar te luister voordat hulle ‘n oordeel  fel.

Nie so met Ruse se boek nie. Hy het werklik die moeite gaan doen om na Christene in die geskiedenis te gaan luister met die eerlike doel om hul te probeer verstaan. Hy het primêre verteenwoordigers van die Christelike geloof, soos Augustinus, Anselmus en Aquinas se boeke in diepte gaan lees. Hy het moderne Christen-teoloë, soos Alister McGrath, Alvin Plantinga en selfs Pous Johannes Paulus II, gaan raadpleeg!

In sy boek haal hy nie minder nie as nege-en dertig Christelike bronne aan. Nie net het hy oppervlakkig geluister na hierdie mense nie, maar hy het werklik ‘n omvangryke verstaan bekom van wat Christene dink en glo. In sy poging om die vraag van die titel van sy boek te beantwoord moes hy beide Darwiniese evolusie sowel as die Christelike geloof goed genoeg verstaan sodat hy die twee kan vergelyk met mekaar. Hy doen dit toe so deeglik dat ek, as Christen, my eie geloof en die inhoud van my eie preke onomwonde herken in sy verduidelikings. Hy het geloof so goed verteenwoordig dat dit soms vir my gevoel het dat ek ‘n Christen se boek lees wat ek by CUM gekoop het! Dit gebeur selde wanneer ek deesdae na populêre ateïste luister soos Richard Dawkins of Lawrence Krauss. Laasgenoemde, asook hulle Suid-Afrikaanse eweknieë – soos Piet Craucamp en George Claassen – maak bloot karikature van geloof.  Hulle toon pynlik min insig in die God en geloof wat hulle verwerp. Dit maak dit moeilik om sulke mense ernstig op te neem.

Ruse verduidelik egter breedvoerig onder andere waarom ons as Jesus-volgelinge glo wat ons glo, waarom intelligente ontwerp vir ons sinmaak, hoe redding uit genade werk, waarom die kruisdood van Jesus en sy opstanding vir ons so belangrik is en selfs wat goeie redes vir geloof in Jesus is. Hy toon merkwaardige waardering vir geloof en vir die waarde wat Christene toevoeg in die samelewing, alhoewel hy homself nie wend tot geloof nie.

Terwyl ek so sit en lees beleef ek twee emosies: Eerstens beleef ek hoe lekker dit is omwerklik verstaan te word, om werklik gehóór te word deur iemand met wie ek verskil.

Tweedens voel ek skaam. Ek voel skaam omdat ek al meer kere as wat ek graag sal wil erken deel was van gesprekke met gelowiges wat nie dieselfde moeite doen en respek toon vir die standpunte en sienings van nie-gelowiges, agnostici en ateïste nie. Daar word in kerkkringe bykans geen moeite gedoen om te verstaan waarom sommige mense nie glo nie, waarom hulle dink dat hulle moreel kan wees sonder God of wat die rede kan wees vir hulle onwilligheid om Jesus te volg nie. As Jesus egter Homself die Waarheid noem, en verduidelik dat die waarheid vrymakend is, dan moet ons ook tog seker maak dat ons die waarheid praat oor dit wat ons “teenstanders” dink en nie altyd aanneem dat hulle oppervlakkig, naïef of onnadenkend is nie.

As ons daarop aandring dat ons die Waarheid volg, behoort ons met aandag te luister na nie-gelowiges en poog om hul standpunte en die oorsprong van hul opinies ten volle te verstaan. Slegs dan kan ons die liefdevolle begrip wat Jesus openbaar het uitleef.