Ten spyte van die talle dinge in ons eie land wat ons gedagtes gevange hou – soos die toestand van ons universiteite of ons eie politieke arena – is daar baie sake in die buiteland wat ook ons aandag trek. Een so ‘n saak is die huidige Amerikaanse verkiesingsveldtog en by name die kontroversie van Donald Trump. Die nuutste storm wat om sy kop losgebars het en wat die hele wêreld aan die gons het is sekerlik die onlangse wiki-leak aangaande die “bus-affêre”. ‘n Nuutgevonde audio-opname van ‘n gesprek tussen Trump en ‘n vorige kollega Billy Bush het hierdeur aan die lig gekom. Die opmerkings wat Trump in die bus teenoor Bush gemaak het, het die wêreld geskok, naamlik sy selferkende, blatante minagting vir- en skaamtelose misbruik van vrouens. 

Ek wil egter nie eintlik oor Trump gesels of oor Hillary Clinton, of selfs die Amerikaanse vekiesing nie. Wat wel by my opgekom het terwyl ek sprakeloos luister na die busgesprek was ‘n belangrike les wat ons almal kan leer hieruit. Een voor die handliggende beginsel wat hier ter sprake is, is dat jou karakter openbaar word wanneer jy alleen is en wanneer jy dink dat niemand sien wat gebeur nie. Wat jy werklik glo oor God, jouself en die lewe kom aan die lig wanneer jy doen wanneer niemand beïndruk kan word daardeur nie. Wat jy in die geheim doen is wat saakmaak. Dít openbaar jou werklike waardes. Indien jy wil weet wat vir jouself werklik belangrik is, dink aan die aktiwiteite waarmee jy jouself besig hou wanneer die vertoning verby, en die skare huistoe is. 

Die dilemma ontstaan wanneer jou geheime lewe en jou publieke lewe nie ooreen stem in waardes nie. Dis wanneer jy ‘n dubbele lewe begin lei. Voorbeelde is ‘n gemeente-predikant wat elke Sondag geestelike dinge van voor af sê maar self geen gebedslewe het nie; ‘n politieke aktivis wat in die publiek teen rassisme praat maar dan sy eie huishulp soos skuim hanteer; ‘n sakeman wat sy sogenaamd Christelike waardes wyd en syd verkondig maar sy eie werknemers uitbuit; ‘n gelowige wat haarself heel “geestelik” gedra voor haar vriende maar haar vrye tyd konsekwent spandeer aan vermaak wat nie goed is vir haar geestelike lewe nie.   

Hoe dit ook al sy, wanneer jou private-wêreld en jou publieke wêreld nie in lyn is met mekaar nie veroorsaak dit stres. Maar meer as dit. Dit veroorsaak ‘n geestelike toestand in die innerlike wêreld van die gelowige wat dodelik is vir die siel: skynheiligheid. Jesus spreek hierdie einste toestand van skynheiligheid aan wanneer Hy oor die Fariseërs sê: 

Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word… “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is – Matteus 23: 5a, 27. 

Wat skrikwekkend is van hierdie hoofstuk is is dat die ergste oordeel in die Nuwe Testament hier uitgespreek word, en wel oor godsdienstige mense!  Jesus waarsku juis godsdienstige mense teen die versoeking van skynheiligheid. Godsdienstige omgewings verwag ‘n bepaalde morele kode van mense. Dit veroorsaak dat mense uiterlik begin optree in ooreenstemming met hoe hulle aanneem die kerkomgewing van hulle verwag. Baie vinnig begin ‘n tipe van “voorgee” intree. Kort voor lank is die buitekant pragtig maar die binnekant stink. G’n wonder nie dat Jakobus skryf (Jakobus 5:16): 

Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar dat julle gesond kan word. 

Jakobus beskryf die eerste stap om klaar te speel met geestelike “akteur-wees”. Dis hoe mens die eie skynheiligheid in jou hart begin breek: hou op voorgee; praat die waarheid oor jouself; bely dit voor mense en laat hulle saam met jou bid in die rigting van die oorwinning en aflê van jou slegte gewoontes. Vertrou Jesus met jou donker hart en volg Hom na die lig.